Thursday, February 19, 2009

'n Berglandskap mooier as Heidi s'n


- Jens Friis
"DIé wêreld is wragtig pragtig!", sê my vriend toe ons stilhou op die kruin van Arthur's Pass van waar jy 'n wye blik oor Nieu-Seeland se Suid-Eiland het.
'n Televisie-reiskanaal het kort voor ons vakansie dié bergpas bestempel as een van die "most spectacular" ter wêreld en só het dit toe gekom dat ons dit aandurf.
Om vanaf Canterbury aan die Stille Oseaan tot by die Weskus langs die Tasmansee te kom moet jy eers die Suidelike Alpe óór.
Deur dié magtige bergreeks vleg slegs één spoorlyn en twéé paaie waarvan die Arthur's Pass Road die hoogste en die mees indrukwekkende is.
Op 'n kaart lyk dit of jy dit sommer in 'n japtrap kan afblits, maar dié kronkelroete lei oor berge en dale. 'n Rit neem omtrent dubbeld solank as die ellelange pad tussen Beaufort-Wes en Laingsburg. Só het ons 4 uur en 15 minute gery aan die 258 km van Christchurch, die grootste stad op die Suidelike Eiland, tot aan die Weskus.
Die TranzAlpine Railway loop vir groot dele regs langs die Arthur's Pass Road en ek lees dat dié treinrit van Christchurch na Greymouth omtrent ewe lank duur as per motor. Dit moet een van dié treinritte ter wêreld wees. Al jammerte is dat mens nie soos per kar op die ingewing van die oomblik kan stop vir foto's in dié wonderskone wêreld nie.
Van Springfield klim die pad vinnig uit teen die Porterpas (945 m). Hier vorm die berge 'n plato en ry jy deur valleie óór strome verby kalksteenpieke én ondeurdringbare bosse.
Hierna volg Arthur's Pass (924 m) in die gelyknamige nasionale park. Sestien pieke in dié park is hoër as 2 000 m. Aanvanklik het boerdery-geleenthede settelaars vanaf Canterbury wes gelok, maar dit was eers ná die ontdekking van goud in die 1860's dat groot hoeveelhede Europeërs die Suidelike Alpe oorgesteek het. Destyds was dit 'n uitmergelende tog, maar selfs vandag nog kos dit kophou as jy dié pad pak.
Omdat die Arthur's Pass Road die belangrikste verbindingspad tussen oos en wes is, was ek verstom dat ons by baie brüe moes stop vir aankomende verkeer - menige laagwaterbruggies is slegs 'n enkele baan wyd. Soms word jy dan ook gewaarsku dat hierdie 'n "Fine Weather Road Only" is en dat van die afdraaipaaie "Unsuitable for Buses" is. (Terloops, ‘n padteken wat my steeds bybly is die weldeurdagte "drink DrIvE".)
Wat óók ophou is spoedbeperkings van so laag as 30 km/h, eendeweer, toeriste op fietse, rondloper skape, lorries met dik boomstompe, sneeuskrapers, voortdurende haarnaalddraaie, en geniepsige gruisklippies wat voorruite piets (gehuurde motors word spesiaal daarteen verseker).
Durf die pad vroegdag aan, want laatmiddag hang daar in hierdie yl bevolkte bergwêreld by omtrent alle blyplekke "No Vacancy"-bordjies.
Dis ook wys om padkos saam te ry, want op dié uitgestrekte pad is daar bloedweinig dorpies en padstalletjies, om nie eens te praat van eenstop-motorhawens nie.
Vir 'n Suid-Afrikaanse oog sal dit ook vreemd wees dat 'n géélstreep die middel van die teerpad aandui.
Omdat soveel sneeu hier val is daar oraloor sneeupaaltjies langs die pad sodat motoriste darem weet wáár hulle moet ry as die wit dik lê.
Somers kan jy skaars glo dat dit hier só bibberend kan word, want die "palmbome" wat orals staan is in der waarheid varings - nes dié op die All Blacks se truie.
Maar dis juis dié kontraste wat Nieu-Seeland so ‘n aanloklike toeristebestemming maak: Soggens kan jy in die see swem en smiddags ski.
Dis nou as dit nie begin sous en die reën besoekers se voetspore wegwas nie.
Nieu-Seeland probeer die "groenste land" op aarde wees. En hulle slaag daarin. Die lug is kraakvars, wetgewing is streng oor vuurmaak, niemand gooi papiere rond nie ...
Die foto’s in Nieu-Seelandse reisbrosjures lieg nie: die grootste deel van dié land lyk soos die Tuin van Eden.
En as jy ‘n voëlblik op die mooie Suid-Eiland wil hê is die Arthur’s Pass Road die ideale plek.
Vir my was hierdie berglandskap véél mooier as Switserland, selfs al bly Heidi nie hier nie.