Thursday, February 19, 2009

GIANT'S CAUSEWAY se vulkaniese, swart orrelpype

- Jens Friis

GIANT'S CAUSEWAY, 'n UNESCO Wêrelderfenisterrein, is met rede Noord-Ierland se gewildste toeristebestemming: Sy enorme klippilare lyk of dit deur 'n reus uit die aarde gepluk is.
As dié buitengewone natuurverskynsel ons vandag nog betower, kan mens net net raai watter indruk dié geologiese wêreldwonder op ons voorvaders moes maak.
Die legende lui dat Giant's Causeway gebou is deur die reus Finn MacCool, 'n kryger van Ulster en 'n gevreesde aanvoerder van die Ierse leër. Finn het sy hart verloor op 'n meisie van die eiland Staffa aan die Skotse kus. Hy wou haar by hom hê en het toe 'n "klip" vir haar uit die pad gerol deur 'n reuse voetpad oor die see te bou.
Volgens 'n ander oorlewering het Finn die Causeway gebou sodat sy aartsvyand, Benandonner, 'n Skotse reus, na hom kon stap sodat hulle dinge kon uitbaklei. Maar Finn het vreeslik geskrik toe hy Benandonner sien, want hy was veel groter as wat hy verwag het. Finn het toe na sy vrou gehardloop en dié het hom vermom as 'n baba. Toe Benandonner vir die reusagtige baba sien het hy op die vlug geslaan, want as die kind só groot is wil hy nie die pa sien nie, het Benandonner uitgeroep.
Die meer prosaïese verklaring is egter dat die Giant's Causeway gestalte gekry het deur vulkaniese aksie sestig miljoen jaar gelede toe Europa en Amerika van mekaar begin wegbeweeg het. Lawa het deur swakplekke in die kalksteen-landskap geborrel waar Skotland en Noord-Ierland nou is en só is die grootste basalt-plato in Europa gevorm. Die kokende basaltlawa (magma) is uitgedruk tot op die aardoppervlak waar dit afgekoel het tot klip.
Al die kolomme sou seskantig gewees het as die proses gelykmatig plaasgevind het, word verduidelik by die plaaslike besoekerssentrum. Maar slegs sowat 18 500, oftewel die helfte, is seskantig. Die res wissel van vier- tot tienhoekige kolomme. Die langstes is menere van 25 m en 50 cm in deursnee.
Van bo lyk die kolomme soos 'n stuk heuningkoek en van die kant soos orrelpype of trappe wat na die see lei.
Die jare het sy merk op dié rotse gelaat. In die dae van die ys-tydperk het ys hierteen geskuur en die Atlantiese Oseaan se wind en golwe het meegehelp dat van die pypformasies name gekry het soos Chimney Pots, Giant's Boot, Wishing Chair, Pipe Organ en Honeycomb.
Dít en veel meer leer jy by die besoekersentrum, maar moenie te veel tyd hier verwyl nie, want dis die ware Jakob waarvoor jy gekom het.
Ek kan jou waarborg jy sal nie teleurgesteld wees nie.
Koop 'n kaartjie en ry met die minibussie vanaf die besoekersentrum na die Giant's Causeway, want dis 'n stewige stap na die kus doeronder.
Dié wêreld bied egter ook veel meer as indrukwekkende vulkaniese kolomme en romantiese legendes.
Talle veldblomme en seevoëls oorleef op die Causeway-kuslyn se poskaartmooi duine, grasgroen berge en spierwit sandstrande.
Die wrak van die Girona lê sedert 1588 in Port-na-Spaniagh. Op dié noodlottige dag het die Girona twee ander skepe se passasiers gaan red en was gevolglik erg oorlaai. Die waters was te woes en toe dit sink het 1 200 mans met hul lewens geboet. Slegs vyf het oorleef en hul nasate woon steeds in die area.
Dit was ook Spaanse skepe wat op 'n ander geleentheid met hul kanonne op die Giant's Causeway losgetrek het. Die bemanning het dié eienaardige rotse verwar met die nabygeleë Dunluce-kasteel wat op 'n afgrond staan.
As jy dol was oor die Giant's Causeway sal jy sin hê in die ongewone basalt-formasies langs die baaie van die nabygeleë Port Noffer en Port Reostan.
Dit mag ook loon om 'n draai te maak by die Bushmills Distillery langs Main Street in die dorpie Bushmills. Dis die wêreld se oudste distilleerdery aangesien dit al in 1608 gelisensieer is, maar historiese verwysings dateer terug na 1276. Aan die einde van die toer deur die distilleerdery kry jy die kans om mond nat te maak. Maar stadig oor die klippe! Anders sal jy nie later die dag nog kan "hopscotch" oor die Causeway se ingelegde pype nie.
Óf as die alkohol te veel trek kan jy jou bloot sitmaak op een van die 37 000 seskantige "sitplekke". Kyk dan noord oor die see en verbeel jou die dag toe dié stuk water 'n see vol vloeiende magma was ...

SOU JY GAAN ...
Beste tyd om te besoek? Giant's Causeway is heeljaar oop, maar wees wisselvallige Atlantiese Oseaan-weer te wagte. Storms kom veral in die lente en herfs voor.
Neem wat saam? Dis altyd wys om hier 'n reënjas en sambreel byderhand te hê, maar met ons besoek sou sonbrandmiddel meer geskik gewees het.
Hoe kom ek daar? Vlieg na Dublin en ry dan per motor of bus na County Antrim aan Noord-Ierland se noordkus. Daar is vier busse per dag (minder op Sondae) van Portrush via Giant's Causeway na Ballycastle.
Slaapplek? Stap met die Coastal Cliff Path vanaf Giant's Causeway vir 16 km oos verby Dunseverick Castle tot by die strand van Whitepark Bay. Hier is die bekostigbare YHANI Whitepark Bay Hostel. Slaap andersins in die historiese Causeway Hotel in Giant's Causeway Park of in een van die vele gastehuise in die omringende dorpies.
Waar kry ek meer inligting? www.ntni.org.uk of www.northantrim.com