Thursday, February 19, 2009

So ry die trein ...

- Jens Friis
MENSE reageer vreemd as hul hoor jy gaan trein ry in Suid-Afrika. Daar is dié wat in geen dubbelsinnige taal vir jou sê jy's nie reg wys nie teenoor enkelinge wat reken dis 'n avontuur wat hulle óók wil aanpak - eendag.
Maar bloedweinig het dit al gedoen, want jy's mos nie jou lewe seker op Spoornet se afgeleefde treine nie.
My pa se suster en haar man, Ria en Jan Erlank van Bloemfontein, twee ervare treinreisigers, het egter anders te vertelle gehad en só besluit ons toe om kaartjies aan te skaf by die Bloemfonteinse stasie.
Híér het ons planne egter so byna 'n vroeë dood gesterf, want hoewel daar 'n spesiale kantoor is vir die Shosoloza Meyl, was dié gesluit en moes ons in 'n ry (byna so lank soos 'n trein) gaan wag.
My wederhelf het gedreig dat hy Maria Ramos persoonlik gaan kontak en dit het mooipraat gekos om hom die volgende dag weer daar te kry. (Alleen wou ek nie gaan nie. Die stasie is immers nie meer in die beste deel van die stad nie.)
Op Dag 2 was die Shosoloza-kaartjieskantoor oop, die vrou agter die glasvenster suur en onbeholpe, maar na 'n halfuur had ons ons kaartjies: Eersteklas van Bloemfontein tot in die Kaap in 'n koepee teen 'n billike R350 per persoon (eenrigting). Hierop het my ouers boonop afslag gekry omdat hulle (gelukkig) oud genoeg is. So wag ons toe twee weke later op Bloemfontein se verlate stasie vir die Shosoloza Meyl - 'n reuse duisendpoot geverf in die kleure van 'n verkleurmannetjie.
Ons het die spoor sat gekyk, maar kon helaas nie die trein uit die niet kyk nie. Nes in die dae van die ou Spoorweë is treine vandag stééds laat. Dis Afrika. Jy verwag dit. Maar die probleem is dat die Shosholoza se wiele baie pap was dié dag. Dit moes 10:00 instoom, maar 13:00 was daar steeds geen sien van die blinkantien.
Om die tyd te verwyl het ons maar geknibbel aan ons padkos: biltong en droëwors, nartjies, toebroodjies, frikadelletjies ... maar genadiglik g'n stinkende, blou eiers nie.
Saam met ons het veral ouer blankes gewag - grysaards wat die tyd het om oor 22 ure Kaap toe te ry. "Mag die gode ons behoed op hierdie trein," sug 'n tannie wat by haar kinders in Bloubergstrand gaan kuier. "Ja," sê haar man, "teen die tyd wat ons in Kimberley kom, sou ons met die kar al in Worcester kon wees!"
Maar die gemoedere lig toe die tjoeketjoek teen 14:00 instoom. Só opgewonde is die wagtendes hieroor dat 'n applous selfs oor die perron weerklink.
Personeel is dadelik byderhand, vra ekskuus vir die laatkommery en verduidelik dat dit buite hulle beheer was, "want daar was 'n elektrisiteitsonderbreking duskant Bethlehem." (En om vanaf Bethlehem tot in Bloemfontein te kom, vat nogal 'n ruk, want die trein ry 'n wye draai deur die Vrystaat via Kroonstad.)
Sekuriteitswagte neem ons na ons kompartement en enkele minute later swiep ons verby die skougrond en onderdeur die N1 na Kimberley.
Vir 'n verandering doen ek niks en kyk bloot hoe die wêreld verbygaan. By De Brug jaag 'n volstruis die waens. Dwarrels waai oor droë landerye by Petrusburg - pure hooikoorsmateriaal. Die een na die ander murasie en watertenk wat eens 'n stasie was, vlieg verby. Hoe nader ons aan Kimberley kom hoe meer word die doringbome en wildkampe. En toe ons die Noord-Kaapse grens oorsteek steek die Diamantstad se mynhope hul koppe uit.
Ja, hierdie is voorwaar 'n rit wat jou laat terugdink aan liedjies soos "So ry die trein ... die Kimberleyse trein", "Tussen Treine" en "Transkaroo".
Skaars het ons die Oranjerivier oorgesteek toe sit ons aan vir aandete in 'n eetwa met wit tafeldoeke - al te keurig. Boonop sou die reuse, smaaklike steak (R52) in die meeste restaurante baie duurder gewees het.
Op pad na ons kompartement vra 'n behulpsame portier of ons beddegoed (R40) wil hê. Dié is skoon-skoon, sluit onder meer twee ordentlike kussings in en jou bed word selfs vir jou opgemaak.
Teen die tyd wat ons De Aar se doodsverlate stasie instoom was ons almal reeds in die kooi en dit was eers die volgende oggend toe ons deur De Doorns se wingerde ry dat ek weer my oë oopgemaak het.
Die rit deur die Boland was onvergeetlik: sneeu op die berge, vinnig vloeiende riviere, lowergroen landerye, varkore oral ... En toe, net suid van die Paarl, het Tafelberg in die verte opgedoem. Ons was om die draai van die Moederstad!
Vir wat jy betaal en wat jy kry is die Shosholoza Meyl uitstekende waarde vir geld. Die grootste punt van kritiek was dat die trein erg laat was, maar die ander kant van die munt is dat vliegtuie al te dikwels ook nie op tyd is nie - soos ons terugvlug na Bloemfontein. Verder is daar niks wat 'n botteltjie Dettol nie kan doen nie as jy erg kiembewus is. Hoewel die trein se verwarmers nie gewerk het nie, was die beddegoed oorgenoeg om 'n knus nagrus te verseker.
Oorweeg gerus die Shosholoza Meyl as 'n ander manier om Suid-Afrika te deurkruis.
* Kyk by www.spoornet.co.za/ShosholozaMeyl vir meer inligting of bel 086 000 8888.