Thursday, February 19, 2009

Dít maak Carnarvon anders

- Jens Friis
SEDERT die dae toe Edwil van Aarde “Flinkdink” aangebied het was ek (as laerskoolseun) geïnteresseerd in wat jy seker sou kon beskryf as “fassinerende feite”.
Oor watter waarde die kennis van sulke inligting het, hang dikwels ‘n vraagteken.
In Engelse sou jy dit immers “trivial pursuit” kon noem.
Die woordeboek sê “trivial” beteken “alledaags, vervelig, beuselagtig, onbeduidend”.
Maar glo my, dit sou ‘n lae hou wees om die “najaging” (“pursuit”) van sulke “kleinighede” (“trivia” is in dié geval beslis nie “nietighede” nie) as “alledaags” of “vervelig” te beskryf.
“Alledaags” is dit nie, want dis juis die ontdekking van dit wat nuut (oftewel nuus) is. Dis ‘n volgende vlak van ontdekking wat jy meerderemaal eers kan meemaak as jy die basiese feite onder die knie het.
En eerder as “vervelig” is dit vir my fassinerend dat jy vir jouself só ‘n valerige wêreld in ryk kleure kan opkikker.
Carnarvon in die grote Karoo het byvoorbeeld nie die bekoring van sy boomryke buurdorp Loxton nie, maar nietemin spog Carnarvon met ‘n handvol interessanthede wat “fassinerende feit”-jagters sal bekoor.
Waar Carnarvon vantevore vir jou net nóg ‘n Karoo-dorp was, kry dit ‘n eie identiteit as jy raaklees dat hier ‘n reservaat is waar 60 skilpaaie op hul name reageer, 4 000 blikkies bier te sien is in die Blikkieskroeg en Carnarvon die blyplek van meerdere skrywers was.
Ná die bewusword van dié brokkies wil jy méér daarvan weet en as jy bietjie huiswerk doen lei dit daartoe dat jy tydens ‘n besoek na D.F. Malherbe se huis langs Rivierstraat gaan kýk (waar jy andersins dalk net vlugtig verby nóg ‘n mooi Victoriaanse huis sou ry).
A.G. Visser se ouers moes weens ‘n droogte met hul vee na die Fraserburg-distrik trek waar hy onder ‘n peerboom gebore is in 1878. Sy pa het Carnarvon lank in die parlement verteenwoordig en ook hy sou later hier skoolhoof en distriks-geneesheer word.
Vanmeleë het die skrywer F.A. Venter op die plaas Constantia in die naburige Vanwyksvlei geboer.
En ook die storieverteller Jaco Jacobs, deesdae ‘n Bloemfonteiner, is ‘n oud-Carnarvoner.
Dat dié dorp so ‘n hoge Ingelse naam dra is skoon uit plek, want algar praat hier Afrikaans.
Maar dié is natuurlik nie ‘n aardigheid nie, want terwyl die Kaap onder Britse bewind was het dieselfde gebeur met ‘n magdom ander Karoo-dorpe soos Williston, Loxton en Victoria-Wes.
Carnarvon is in 1860 uitgelê op grond wat behoort het aan die Rynse Sendinggenootskap. Eers het dit Harmsfontein en Schietfontein geheet, maar is in 1874 vernoem na Henry Howard Molyneux Herbert.
Maar van waar dan Carnarvon?, sou nuuskieriges wel wou weet.
Henry Howard Molyneux Herbert (1831-1890), die Britse Koloniale Sekretaris, was óók die graaf van Carnarvon en só het dié dorp toe naam gekry.
Hoewel hier nog huise staan wat dateer uit die vroegste dae (1860’s) is dit jammer dat soveel – anders as in byvoorbeeld Loxton, Prins Albert en Sutherland – binnekort gered moet word anders gaan dit te laat wees.
Die eerste kerk op Unieplein is steeds in gebruik en dié N.G. Kerk het in 1997 sy 150ste bestaansjaar gevier. Soos in soveel ander dorpe moes dié kerk hospitaal word tydens die Anglo-Boereoorlog.
Maar wat argitektuur betref is dit Carnarvon se korbeelhuise wat besonders is. Dis juis in een van dié klipdakrondawels, ‘n nasionale gedenkwaardigheid, wat ons oornag het op die plaas Stuurmansfontein.
Dié Karoo-igloos se dakke moes van klip gebou word omdat hier nie hout was vir balke nie.
Nes in Carnarvon self is daar in die distrik ook heelwat blyplek vir toeriste.
Xplore, die amptelike reisgids van Satoer, skryf onder “plaas-akkommodasie” dat “ontspannings-aktiwiteite” die volgende insluit “San-rotskuns, staproetes en die jag van dassies, vlakhase en ystervarke”.
Waarom ‘n besoekers sin daarin sou hê om dié arme diere sonder rede te wil dood, gaan my verstand te bowe.
Dis skrikwekkend waar dié uitwissery ons al gebring het. Lees maar net “The Springbok Migrations” deur Lawrence Green: “Tydens die hoogtepunt van die migrasie, sê Gert, was die geraas oorverowend. Ontelbare hoewe het die grond tot fyn stof vertrap en dit was moeilik om asem te haal. Gert se vrou, wat die trek skrikkerig dopgehou het, moes die lakens oor haarself en die kinders trek. Die stof het hulle byna laat versmoor. Alles in die wa was bedek met ‘n vaalgeel stoflaag."
Ja, waar is die dae!
Skape gaan jy wel baie van sien in dié geweste, maar die enigste wild sal waarskynlik ‘n blesbok wees wat vir jou stip loer as jy langs die R63 verby die Appie van Heerden Natuurreservaat buite Carnarvon ry.
Dié reservaat het nie ‘n hekwag nie en die sleutel is te kry by die munisipaliteit.
Langs die munispale kantoor is die Carnavon Museum. Deel hiervan is ‘n korbeelhuis waarvan die stene eers genommer en toe stuk-stuk dorp toe gery en herbou is.
En as al bogenoemde dinge jou nog nie genoeg fassineer nie, moet jy dalk ‘n draai kom maak met die Carnarvon Fly-In. Dié hoogtepunt op die plaaslike sosiale kalender vind jaarliks plaas op Jeugdag, 16 Junie, wanneer allerhande vliegtuie op dié dorp neersak en nuuskierige agies vir Carnarvon uit die lug kan verken.
Wie weet, dalk lei só ‘n voëlblik vir jou tot ‘n fassinerende feite-vonds.
Die grootkoppe van ‘n oliekonsortium het immers eens die kontoere van dié geweste bestudeer en ‘n boorgat van 1 500 m gesink. Maar na veertien jaar se boordery het hulle tou opgegooi, want hier was nog minder olie as wat daar water in die Groot Karoo is!