Thursday, February 19, 2009

Calvinia se “spens” bied baie


- Jens Friis

‘n Slopie droëvrugte
die warejakobsoort
‘n handvol springbokbiltong
gekerwe soos dit hoort
gekookte skilpadeiers
uit Gam se tint gevat
en ‘n stywe knapsak krokos
versukkereer jou vir die pad

Hoewel padkos soos dié aan te bevole was in die tyd van Boerneef, ‘n Hantam-liefhebber, sal iets soos skilpadeiers deesdae die wenkbroue laat lig. Tog bly Calvinia, die inkopiemekka van dié geweste, ‘n plek waarby jy nie moet veryrits nie. Span soos vanmeleë ‘n bietjie hier uit en vat só ‘n stukkie van die Hantam saam met jou. "Calvinie", soos Boerneef lieftallig daarna verwys het, bied baie, skryf JENS FRIIS.
CALVINIA wat net suid van die Hantamsberg, 387 km noordoos van Kaapstad lê, is in 1851 op die plaas Hoogekraal aangelê en vernoem na die Hervormer, Johannes Calvyn.
Deesdae stroom besoekers van oor die wêreld heen na dié kontrei in die lente (veral ná goeie reën) om die sowat 4 000 blomspesies te bewonder. (“Hantam” is Khoi vir “waar die rooi bolplante groei”.) Calvinia is ‘n ideale basis om dié kleuretapyt te aanskou op plase soos Matjiesfontein, Toren en Nerasie – almal binne ‘n 40 km radius van die dorp.
Lente en herfs is die beste tyd om hier ‘n draai te maak, want andertye kan die temperatuur ietwat onguur wees. Somers klim die kwik tot bokant 40 C, terwyl dit onder vriespunt kan draai in die winter as sneeu spierwit op die berge lê.
Blomliefhebbers kan hul poskaarte en briewe pos in ‘n 6 m-hoë rooi posbus langs Kerkplein. Posstukke wat hierin beland kry ‘n spesiale blom-posstempel. Hierdie enorme posbus is ‘n toeriste-attraksie wat beslis die koppe laat draai. Tot 1995 was dit ‘n watertenk en as jy nou langs dié posbus staan voel jy soos ‘n dwerg in Lilliput.
Oor die straat van dié bloedrooie watertenk staan die Hantamhuis, die oudste gebou in Calvinia en ‘n nasionale gedenkwaardigheid. Dié huis wat in 1853 deur veldkornet A. van Wyk gebou is het talle toekennings gewen omdat dit sorgsaam gerestoureer is deur dr. Erwin Coetzee en sy vrou Alta.
Dié egpaar is ook die bestuurders van Die Boekehuis waar Kannemeyer tot Krog gereeld arbei.
Die Hantamhuis word deesdae ingespan as ‘n restaurant, geskenkwinkel en inligtingsentrum vir die Coetzees se verskeie gastehuise.
By dié kompleks kan jy ure verwyl. Nadat jy die periode-meubels uit die 1850’s asook oorspronklike speelgoed van Miss Dolla Parker se algemene handelaar bewonder het, kan jy aansit vir boerekos uit die boonste rakke soos springbokpastei en slaphakskeentjies of waterblommetjiebredie en kerrie-afval.
Heerlike eetgoed soos turksvystroop, skuinskoek, granaatlikeur, die Coetzees se eie olyfolie, tuisgemaakte bokbotter, asook ‘n verskeidenheid Suid-Afrikaanse reis- en kookboeke, is te koop.
Skuins oorkant die Hantamhuis staan die neogotiese kruisvormige N.G. kerk. Die hoeksteen van dié kerk langs dorpstraat is in 1899, die jaar waarin die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, gelê en dis ‘n jaar later ingewy.
Ook die graf van Abraham Esau dateer uit dié tyd. Esau het hom tydens die Anglo-Boereoorlog geskaar by die Britte. Met 70 man het hy die dorp verdedig teen die kommando van veldkornet Scholtz. Toe die dorp in die hande van die boere val gedurende Februarie 1901 is Esau wreed aangerand in die openbaar en toe tereggestel – slegs drie dae voordat Calvinia deur die Britte teruggeneem is.
Die Calvinia Museum word gehuisves in ‘n 1920 Art Deco sinagoge langs Kerkstraat. Dit gee ‘n blik op die lewe van die koloniste. Te sien is onder meer ‘n houtmeul en nie minder nie as ses klaviere. Maar daar is ook bisarre uitstallings soos verskeie daggapype en ‘n swart trourok.
‘n Klipgooi van die museum is Ietsie van Als, ‘n kleurvolle winkeltjie waar die vloer-tot-plafon-rakke kraak onder (soos die naam aandui) iets van alles. Soos Alibaba se grot is dit vol verrassings. By die rak propvol lekkergoed van haas enige geur en kleur stap selfs die meeste grootmense nie verby nie.
Slegs 2 km noord van Clavinia is die Akkerendam Natuurreservaat waar die skaars sterboom (Cliffortia arborea) met sy naaldagtige blare groei. Die Kareedam is ‘n oase vir voëlkykers en meer as 65 spesies is al aangeteken. Wie weet, dalk gewaar (of hoor jy minstens) die skugter kaneelborssanger.
Om saam te val met die veldblom-blomseisoen word daar jaarliks ‘n Vleisfees by die skougrond gehou oor die laaste naweek van Augustus. Dis ‘n móét om vir dié naweek blyplek te bespreek, want Calvinia bars dan letterlik uit sy nate. Karnivore stroom in hul hordes na hierdie gastronomiese fees om te smul aan skilpadjies en skaapstertjies tot pofadders en kaiings.
By die Vleisfees tree die Klipwerf (Boere)orkes gewoonlik op – waarskynlik Calvinia se bekendste uitvoerproduk. Dié orkes is in 1969 gestig deur Hentie Visagie, maar dit was eers in 1988 wat hulle eerste plaat die lig gesien het. Sedertdien het Klipwerf byna ‘n miljoen albums verkoop wat dit sekerlik Calvinia se bekendste uitvoerproduk maak.
Ja, "Calvinie" bied baie en as jy ooit in die Hantam kom, moet die dorp beslis nie verbyry nie.
Vir meer inligting gooi ‘n oog by http://www.calvinia.co.za/ .