Friday, July 20, 2007

VENESIë: Oor 'n koppie koffie



As jy R100 vir ‘n espresso betaal gaan dit nie net oor die hondjie nie, maar ook oor die halsband - of in hierdie geval die koffie én die kafee. JENS FRIIS vertel meer.

TOE ek daai reisgidsfoto sien het ek geweet: As daar één plek is waarheen ek wil gaan in Venesië dan is dit Café Florian.
En na dese verstaan ek waarom selfs mans van min woorde breedsprakig raak as hulle dié naam hoor.
In Italië word tien biljoen koppies koffie jaarliks gedrink. Kompetisie tussen koffiedrinkplekke is straf en die eer is groot om uit die stryd te tree as "die oudste koffiesalon in die land".
Vanuit die staanspoor was Cafë Florian ‘n kruispad van kuns, kultuur, politiek en vermaak in hierdie romantiese droomstad. Wat baie hiertoe bydra is dat die kafee se ligging by uitstek geskik is as saamkomplek. Sedert 1720 is Cafë Florian genestel onder die suilegang wat Sint Markusplein omsoom.
En sedertdien stroom die kenners van espresso en fyngebak na Piazza San Marco 55 - selfs op die dae wat die plein oorstroom. Al verskil is: dan sit hulle in die drie binnenste kamers en nie by die sondeurdrenkte tafels nie.
Agter die skerms poog die personeel om die diens te vervolmaak. ‘n Tiramisu parfait getuig van die uitvoerende sjef se knap kreatiwiteit, terwyl die hoofkelner wyn en kaas paar om mekaar te komplementeer. Dit word bedien op ‘n silwer skinkbord deur ‘n kelner in wit. Winters werk hier 45 mense, terwyl 75 somers sorg dat alles uit die boeke verloop.
Deel van die kafeekonsertmusikante se ryk repertoire is klassieke musiek, immergroen popliedjies, en uittreksels uit operas en operettes.
Richard Wagner het soms dié orkessie gedirigeer, en by die piazza-tafels het hy sy grootste werk, "Tristan und Isolde", gekomponeer.
Maar dis nie al nie. Die fondamente vir die Venice Biennale is teen die laat 1800’s gelê by Florian se marmertafeltjies. Vandag nog reël die kafee eersteklas kultuur-aktiwiteite. Die klem is veral op kontemporêre kuns en baie van die werke wat uitgestal word vorm mettertyd deel van Florian se privaatversameling. By spesiale geleentheid word dit geleen aan museums soos die Pompidou in Parys en die Guggenheim in New York.
In Florence is daar ‘n Florian sedert November 2006, lees ek op www.caffeflorian.com. Uiteraard is die opening gevier deur wêreldklas uitvoerings en uitstallings. En die koffie is glo net so lekker as in sy Venesiese moedertak.
Hiervoor kan ek nie pa staan nie, maar wat ek gewis weet is dat sy naamgenoot in Venesië nie net boeretroos verkoop nie, maar ‘n belewenis. As dit ‘n koppie koffie van R100 kos, koop ek graag ‘n kaartjie tot dié besonderse kafee.

Hoe kom ek daar?
Café Florian is in die hart van Venesië langs Sint Markusplein. Volg dus net die rigtingwysers na "San Marco".
Maar jy kan ook per boot daar kom: Neem ‘n watertaxi, of die No. 1 of No. 82 Veerboot ("Ferry") en klim af by die "San Marco"-stop.
Stap om die draai en daar begroet die Merano-kroonkandelare van Cafë Florian jou.soos ‘n gasheer wat ‘n bos blomme ("flora") na jou uithou.