“NICE” pronk op goedkoop T-hemde die wêreldoor. Maar hoewel sy naam hom (jammerlik) vooruitloop is die hoofstad van die Franse Riviera nie “common” nie. Dis rerig “nice” en bied ‘n besonderse vermenging van son, see én sofistikasie.
As Frankryk se vyfde grootste stad (350 000 inwoners) het Nice daarin geslaag om ‘n kleindorpse, ontspanne gevoel te behou. Die Cours Saleya-mark nooi Dinsdae tot Sondae die kleure, geure en wonders van die Provensaalse platteland na die stad.
By dié mark kan jy alles kry vir die Niçoise (Nice se kenmerkende slaai) wat bestaan uit halfhardgekookte eiers, ansjovisfilette, roketslaai, gekookte baba-aartappels, bessierooi tamaties, en calamata-olywe.
Die Cours Saleya word omsoom deur geboue in skakerings van bottelgroen, helder okers en pienk – ‘n teken dat dié stad deel was van Italië (tot 1860).
In dié tyd was Nice ‘n gewilde winterse uitspanplek vir Russiese adel en Britte. Die warmwinterweer van die Middellandse see het hulle onweerstaanbaar gevind.
Dit was die Britte wat die ellelange Promenade des Anglais laat bou het as ‘n werkskeppingsprojek, maar ook as ‘n plek waar hul dogters kon gaan wandel sonder blootstelling aan die attensies van Franse hane.
Van hier het jy ‘n poskaartpanorama-blik op die die Côte d’Azur: die ligblou waters van die Franse Riviera glim, ‘n ry palms wieg teen ‘n kobaltblou hemel …
Om weg te kom van die skares sonsoekers is die Rauba Capeau-strand dié plek. Dis aan die einde van die Promenade des Anglais naby die oud-stad oftewel Vieux Nice.
Stap af met die trappies tot op die spoelklippies. Sand het dié strand nie (maar mens kom darem ook nie na Nice om sandkastele te bou nie!). Dis wys om agter ‘n rots skuiling te soek teen die wind. “Rauba capeu” beteken met rede “hoedsteler” in die Niçois-dialek.
Bokant Rauba Capeau bied Castle Hill die beste uitsig oor Nice. Jy kan dit uitklouter, maar dis veel makliker om in die Tour Bellanda-hyser te klim. Op hierdie heuwel het Nice sy eerste wortels geskiet. Van vanmeleë se stadskastele is weinig oor, maar die stadspark en uitsig is eersteklas nes in die dae toe Nietzsche graag hier rondgedwaal het.
Ook die Cimiez-heuwel bied ‘n goeie blik oor die baai – veral langs Boulevard de Cimiez is uitspattige villas ingeryg. Dalk die grandste van die lot is die Excelsior Regina Palace wat huisvesting kon bied aan koningin Victoria én haar gevolg van tweehonderd.
Nóg hoër op staan die Musée Matisse langs ‘n olyfboord en Romeinse ruïnes. Matisse het van 1917 tot sy dood in 1954 in Nice gewoon.
Kyk áf van hierdie arendsnes en jy sal verstaan wáár Matisse én Chagall hul inspirasie gekry het vir verskeie kleure blou.
Aan die onderkant van dié heuwel is die Musée Chagall wat spesiaal gebou is om dié Russiese meester se Bybelse tableaux te huisves. Hier te vind is ‘n 450 van Chagall se werke wat op Bybelse temas geskoei is.
‘n Historiese landmerk wat nie verbygegaan mag word nie is die grandiose Negresco Hotel. “Die Troukoek” is in 1912 gebou in die styl van ‘n spoggerige Franse château. Geen detail of tierlantytjies is gespaar nie. Dis onlangs gerestoureer en die Negresco sprankel weer helder nes die Baccarat kristalkandelaar in sy Salon Royal. Dié kolossale lamp is in die neëntiende eeu geskenk deur ‘n Russiese tsar. Kamers kos vanaf R3750 per nag (sonder ontbyt).
Terloops, dis glo hier waar Richard Burton eens Elizabeth Taylor se juwele vergeet het op ‘n kroegstoeltjie.
Straat-af is nóg ‘n spoghotel, die Le Palais de la Mediterranée, wat in die 1930’s gebou is as ‘n casino. Dié hotel se binnenhuise verhitte swembad, die enigste langs die Côte d’Azur, besorg dit ‘n lekker lang toerismeseisoen.
Laatmiddae keer die mooimense huiswaarts om op te dollie. Dan hop dié hip-groep van een kroeg na ‘n ander in Vieux Nice, terwyl die ouer kosmopolitane hul wend tot ontwerperhotelle se fusion restaurante.
Maar ek het nie gesmag na ‘n vermenging van smake nie. Vir my was dit ‘n groot genoeg ervaring om te smul aan “spécialités Niçoises” soos wat bedien word by Pipa Socca langs Rue Bevastro. So gewild is dit dat jy waarskynlik in ‘n ry sal moet staan om te kan smul aan tradisionele socca van ertjiemeel, water en olyfolie.
Nog ‘n liplekker eetplek is Restaurant du Gesú. By dié familiebesigheid word plaaslike kos bedien op Place du Jésus, ‘n plein in Vieux Nice. My gunsteling was Pissaladière – ‘n ongewone pizza met gekarameliseerde uie, ‘n paar ansjovissies, en olywe. Dié pizza is nie net “nice” nie, maar hemels - nes Nice.
Hoe kom ek daar?
Nice is 31 km oos van Cannes en 912 km suid van Parys. Hordes lugdienste waaronder goedkoperes soos Easyjet, FlyBe en BMI vlieg hierheen vanaf Londen en Parys. Sou jy meer wil weet oor Nice, is www.nicetourism.com ‘n goeie beginpunt.