Sunday, July 29, 2007

Sieraad in kroon van onafhanklikheid


Jens Friis is tuis na ‘n jaar se regsnavorsing in Montreal, Kanada. Tussendeur het hy gereis en was vryskut-joernalis. ‘n Paar lyne uit sy dagboek die aand voor sy vertrek van Kanada na Europa:

Montreal, Donderdag, 22 Maart 2001, 23:37

Waarom is die laaste dag of wat van 'n besoek altyd die lekkerste? Dis soos lemoensap wat nie behoorlik geskud is nie. Om by die pulp uit te kom moet die bottel leeg gedrink word.

Met die wegvlieg vanaf Bloemfontein op 31 Maart 2000 het ek gedog: oor 'n maand of vier - hoogstens ses - is ek terug.

Wys sou dit wees om toe eerder my motor te verkoop en lekker selfoonnomer prys te gee. My omwandelinge in Noord-Amerika en Europa gaan nou by ver meer as 'n jaar draai. As ek klere verwissel in die gim is dit duidelik dat my vel die witste ooit is. Dan wonder ek of Rex nog sy stert sal swaai by die agterplaas-hek op Philippolis.

Die gedagte dat ek more op 'n vlug na Amsterdam klim (mits die sneeu ophou en vlieg moontlik is), krap my om.

Net na my aankoms woon ek tydelik in 'n woonbuurt wat sy gebruikswaarde oorleef het. Ek slaap laat om gewoond te raak aan die tydsverskil. Doen navorsing by die universiteit. Lees in 'n gunsteling koffiewinkel. Verken die stad.

Ek ontmoet talle mede-studente. Mense met die gawe van kommunikasie en helder intellekte. Ek dryf op 'n see van kennisse, maar ken niemand nie. Die afwesigheid van biltong en blatjang pla min. Ek mis 'n ondersteuningstruktuur. 'n Internet-naelstring strek ook net so ver.

Tog maak mens vinniger vriende as wat jy ooit sou dink.

Soos die samestelling van die Kanadese bevolking sou diegene by wie ek werklik aanklank vind heel uiteenlopend wees. Die een 'n Engelse vertaler oorspronklik van Vancouver. 'n Franse patoloog wat hierheen gekom het weens werksgeleenthede. 'n Romeense prokureur wat net voor die val van Kommunisme Kanada bo Suid-Afrika verkies het weens die geweldsituasie.

Ek sien 'n blerts blou van die St. Lawrence vanuit my woonstelvenster en besef dit is dalk die laaste keer.

Ook sal ek die kenmerkende "Merci-Bye!" mis waarmee Frans-Kanadese winkeliers groet as jy uitstap - die Engelse invloed onmisbaar.

Blinkskoon, veilige moltreinstasies waar treine elke vyf minute stop. Nie-luiddrigte passasiers wat soms so stil is in die metrogange dat die geskuifel van hul dikke wintersklere gehoor word as hul stap.

Professionele musici wat in wandelhalle oefen.

Dat daar aan die regterkant van rolrappe gestaan word sodat diegene wat haastig is aan die linkerkant kan verbystap.

Vars sneeu wat soos bakpoeier onder jou voete kraak.

Polisie wat orals sigbaar is, alhoewel geweld en misdaad seldsaam is.

Buitengewone verdraagsaamheid ongeag of dit op grond is van ras, seksuele orientasie, geslag, godsdiens ...

Boonop kan die armstes ‘n sinvolle bestaan hier voer. Kanada beklee reeds vir jare die nommer 1-posisie op die VN se Ontwikkelingsindeks.

As die nuus wat dan hier uitkom hoofsaaklik donker is oor Afrika laat dit jou maar tweekeer dink. Dis immers veel makliker om nou my goedjies te pak op die drumpel van 'n loopbaan as oor 10 jaar op 37. Vir eers gaan ek egter terug na Suid-Afrika - na my taal, my land en my familie.

Iemand het eenmaal tereg opgemerk dat hy reis om dieselfde rede as om te studeer – om nuwe dinge te beleef. Jy kan dieselfde boeke lees of anders nuwes en jouself uitdaag. Dit gaan oor grensoorskreiding wat makliker is in die vreemde. Jy beklee 'n buitestanderstatus en sien (hopelik) dieper - verby sosiale konvensies, konstruksies en etiket.

Soos Hennie Aucamp sê: jy lê jouself 'n soort ballingskap op as jy reis. "Om dit te oorleef, raak jy waaksaam; registreer jy skerper as gewoonlik, word jy een en al sintuig, wat 'n groot hulp is by waarneming."

Dit is verrykend, maar vermoeiend. Jy is aangewese op jouself. As die geld boonop min is verg dit deeglike, vindingryke beplanning. Nogtans is dit sekerlik die sieraad in die kroon van onafhanklikheid.

J.F.”