Friday, July 6, 2007

GRASSE: Parfuummekka




DIS ongelooflik hoe vinnig ‘n reuk ‘n herinnering kan laat opvlam.

Onlangs kuier ek by ‘n vriend buite Dublin. Ek wil my klere uithang en met die oopmaak van die slaapkamerkas is my oorlede oupa skielik vars in my gedagtes. Die reuk van dié kas was identities aan syne op hul plot by Vaalbank-Zuid, Bloemfontein.

My neus is nie goed genoeg om haarfyn te sê waarna dit geruik het nie, maar dit was gewis iets tussen kas, skoon wasgoed, en pepermente. Maar hoe ookal, die kruks is dat Oupa voor my opgedoem het toe daai deure oopswaai – selfs al het ek vir jare hom nie geruik nie.

G’n wonder iemand het eens opgemerk: Geluk is soos goeie parfuum. Jy weet (of vermoed minstens) dis daar, maar kan dit nie vasvat nie.

En dis uit dié misterieuse ontglippendheid wat parfuumhuise miljare jaarliks maak. Parfuum kikker ons lewens slegs vir ‘n paar uur op, maar dis genoeg. Ons is bereid om te betaal, selfs al verslaan dit na ‘n wyle.

In Grasse, die Franse parfuummekka, is die maak van dié botteltjies lekkerruigoed tot ‘n fyn wetenskap ontwikkel deur die eeue.

Dit was in die sestiende eeu dat parfuum hier baie gewild geword het nadat Marie de Medici, die Italiaanse adelike, geparfumeerde handskoene begin dra het.

Grasse was voorheen bekend vir sy (stinkende) leerlooierye. Die voordeel van reukwater was dat dit die stank van leer verminder het én boonop kon hierdie diervelle só gekleur word.

Leerhandskoene het as modegier verdwyn, maar parfuum het gebly.

Talle parfumerieë in Grasse is oop vir besoekers. By Fragonard leer ek dat die woord “parfuum” stam van die Latynse woord “perfumum” wat “deur rook” beteken. Die Romeine het dalk gemeen parfuum word in jou klere vasgevang nes die rook van ‘n braaivleisvuur.

Maar reeds veel vroeër was die mensdom al dol oor lekkerruikgoedjies. Die Egiptenare het dit as lugverfrisser ingespan, en die Grieke het duiwe daarin gedoop om die aangename geur te versprei. Ook die koningin van Skeba en Cleopatra word met parfuum verbind. In latere jare sou Jesus se voete gesalf word deur Maria Magdalena – die hedendaagse beskermheilige van die parfuumbedryf.

Sedert die tiende eeu word “neuse” in Frankryk ingespan om ekstrakte uit blomme te onttrek vir parfuum. Dié kenners kan slegs vir ‘n paar uur op ‘n werksdag ruik, want anders raak selfs hul ontwikkelde neuse verward.

Van die bekende Franse wyn moet hulle maar wegbly, want alkohol (nes rook en sterk kos) is sleg vir hul reukvermoë. En dit mag nie, want hulle moet daagliks ruik aan ‘n allemintige hoeveelheid uiteenlopende dinge soos wortels uit Haïti en Reunion, tot sandelhout uit Indië, en kaneel uit Sri Lanka.

Ook die diereryk word nie gespaar nie: afskeidings uit die dermkanaal van potvisse word ingespan, en die muskus kom van die pensvel van ‘n manlike hertsoort.

By Fragonard is ‘n wêreldkaart waarop aangedui word waar wat vandaan kom. Maar skynbaar het die Franse nog nie ‘n draai in ons Suiderland gemaak nie. Uit Angola word darem kuskusgras gebruik.

Maar van al die bestanddele bly blomme immergewild. Konings hieronder is lemoenbloeisels, narsing, buisrose, en katjiepiering. Sommige soos jasmyn moet ook net op die regte tyd van die dag gepluk word, want later is die reuk veel meer vervlietend.

Om ‘n kilogram ekstrak op te vang is gemiddeld ‘n ton blombare nodig. Dis dus geen wonder daai klein botteltjies kos ‘n fortuin nie.

Interessant is dat blomgeure soos Chamade van Guerlain en Clandre van Paco Rabanne nie in die natuur voorkom nie. Dis te danke aan sintetiese geure, want sekere blomme verseg om hul te laat na-maak. Daarom moes die wetenskap maar hulp bring.

Die werklike doel van sulke begeleide toere deur parfuumfabrieke is dat jy geld moet uitgee in hul verkooplokale. Hier is bottels der bottels reukwater waaruit jy kan kies. Alles wat denkbaar gegeur kan word – van kerse en seep tot kussing en serpe – is dan te koop. My ervaring was dat baie van dié goeters minderwaardig is. Hoewel die bekende modehuise se parfuum van hierdie plase kom, is dit die beste om ‘n botteltjie bekende reukwater aan te skaf by ‘n erkende parfuumwinkel.

Rondom die dorpie Grasse is heelwat te doen. Die Franse Riviera met Nice, Cannes en Monaco is net ‘n klipgooi ver. 'n Daguitstappie na die Alpe is nog 'n opsie.

Kyk of jy 'n Citroen of Fiat kan huur en bring 'n besoek aan van Grasse se romantiese, Provensaalse buurdorpies. Omtrent algar word omring deur velde van jasmyn, laventel en rose.

Moet egter nie al hierdie dinge probeer inprop nie. Soos ‘n gryse, wyse Franse vrou gesê het: ``Rus soms in die dag anders rus jou oë en ore nie genoeg om die mooi werklik in te neem nie.''

En van Grasse sou ek kon sê: Gun jouself genoeg tyd dat jy slegs aan ‘n geur of drie per dag hoef te ruik. ‘n Goeie neus kan glo tot 5 000 geure uitken, maar ons gewone mense kan net onderskei tussen sowat sewe parfuums.

Daar word gesê ons reuksintuig het die swakste “geheue” van al ons sintuie. Maar hieroor hang ‘n vraagteken in my gemoed: dink net hoe vinnig kon ek vir oupa terugroep toe ek daai kasreuk ingeadem het!