Saturday, July 7, 2007

ST. TROPEZ: Die nostalgiese mite sterf nooit


HERINNERINGS mag méér word na herhaaldelike besoeke, maar hoe jy oor ’n plek voel, word alte dikwels gekleur deur jou eerste blik daarvan.
En só was dit ook met my en St. Tropez.
Selfs ná jare bly daardie eerste aankoms my by – moontlik omdat dit so ’n ellelange rit daarheen was. Het ek destyds beter geweet, het ek gewis ’n ander perd (en nie ’n donkie nie) opgesaal.
In ’n poging om met beperkte geld én tyd soveel moontlik te sien het ek ’n aanbod aanvaar om saam met ’n vriend van Luxemburg na Provence te ry. Dit sou die vierde en laaste been wees van ’n vermoeiende tog oor 44 uur. Per trein en bus sou ek reis van Connecticut oor New York na die John F. Kennedy-lughawe. ’n Vliegtuig sou my neem na Schiphol, en ’n Amsterdamse vriend sou my dan karwei na Luxemburg waar ek my Berlynse vrind sou kry.
Saam sou ons van noord na suid deur Frankryk ry om ons vriende uit Connecticut in St. Tropez te herontmoet. Hulle het ’n private jag gehad waarmee daar Europese hoogsomers deur die Mediterreense blou geklief is. Die Berlynse vrind het hom misgis hoe groot Frankryk is, en boonop wou hy die snelweë se tolhekke vermy. Toe ons dus by Lyon (redelik in die middel van Frankryk) verbyry, het die skemer toegeslaan. Die skiereiland waarop St. Tropez lê, het kort ná twee daardie oggend voor ons verskyn. Maar ek was só pê dat ek skaars kon glimlag.
Boonop was dit nog nie die einde van ons “avontuur” nie, want waar is ons slaapplek?
Die leidraad (asof dit ’n skattejag is!) was: “Ons wag vir julle op die jag + in die hawe + naby die heliport.” Dit was verstommend akkuraat. Hoewel dit wemel in St. Tropez se hawetjie van luukse jagte (vissersskuite is so skaars soos hoendertande), was daar net één plek vir die beroemdes se helikopters.
Ook was daar net één jag met ’n Stars-and-Stripes. Die Amerikaners was gelukkig nog op – al kuierend om ’n bottel Franse rooiwyn, olywe en kaas.
Dit was ’n soel aand en ’n poot-uit ek het my lê gekry op ’n dek-bank. Enkele ure later het die son my wakker gebrand en St. Tropez het in ’n hoefyster rondom die jag opgedoem.
Weens die vissersdorpie se ligging het dit ongeskonde gebly in die vroeë jare van ontwikkeling van die Côte d’Azur. As die enigste dorp langs die kus wat noord front, is dit nie beskut teen die erge noordewinde nie. Gevolglik het vakansiegangers grootliks weggebly.
In 1892 het die skilder Paul Signac sy hart op St. Tropez verloor en vriende soos Matisse en Dongen aangemoedig om hier te kom uitspan. En in 1920 het die skrywer Colette die oë laat rek toe sy met naakte bene verskyn het op die Pampelonne-strand.
Dié dorpie is grootliks verwoes tydens die Tweede Wêreldoorlog, maar kort hierna sou dit letterlik met ’n “boem” teruggekeer. In 1956 het Brigitte Bardot na St. Tropez gekom, maar seksgodin BB het nooit weggegaan nie ná die verfilming van Roger Vadim se And God Created Woman.
Bardot-eweknieë en bronsbruin bulle vul deesdae die bo­stuklose (en soms “bottomless”) strande. Daar word gesê dat “top­less sunbathing” ontstaan het op die gewilde Plage Tahiti – een van die beste strande langs die Riviera. Maar as jy nie só openlik wil loer nie, is Café Sénéquier langs die Quai Jean Jaurès dié plek. Hier kan jy jou verwonder aan ’n oneindigende parade vakansiegangers in verskillende vorme van oord-chic waarmee hul tuis nooit sou wegkom nie.
“It’s a case of flair vs dare,” sou my Amerikaanse vriend wel verwonderd opmerk. Nietemin het St. Tropez nog altyd op ’n wonderbaarlike wyse ontsnap aan die hordes se hedonisme. Dié vakansiedorp bly “in”.
Die nostalgiese mite van ’n ewigdurende eilandvakansie tussen bekendes en mooi mense sterf nooit. Dié droom flirt altoos met die mensdom (onder wie ek) en lok hulle van oral na St. Tropez (selfs al kos dit ’n uitmergelende tog daarheen).
Ek is seker Bardot sou verleidelik hieroor glimlag.