Thursday, July 26, 2007

FORTH: Brug 'n industriële wêreldwonder

EDINBURGH bekoor algar, maar net noord van die Skotse hoofstad is ‘n indrukwekkende brug wat my ook bybly.
Daagliks blits 200 treine oor die Forth Spoorwegbrug wat beskou word as een van die industriële wonders van die wêreld. Liefhebbers daarvan prys dit ook as “een van die grootste siviele ingenieurswerke van die laat-Victoriaanse era” en “’n imposante mensgemaakte landmerk”.
Bouwerk het 125 jaar gelede begin nadat die eerste planne byna ‘n driekwart eeu vroeër ingedien is. Dit sit immers nie in enige ingenieur se broek om ‘n brug te bou oor 2 522 m nie.
Aanvanklik is ‘n tonnel voorgestel onder deur die Forthrivier, maar hierteen is besluit omdat dit te gevaarlik sou wees. Die enigste ander moontlikheid om die oewers te oorspan was ‘n brug.
In 1865 het die regering vir Thomas Bouch van die Noord Britse Spoorweë aangewys as ingenieur om die Forth Railway Bridge te ontwerp.
Maar kort hierna het Bouch se brug oor die Tayrivier inmekaar getuimel toe ‘n orkaan dit tref. Hoewel die ineenstorting nie Bouch se skuld was nie, is hy die trekpas gegee, want die Skotte het glo geloof in sy werk verloor.
‘n Kontrak om ‘n “cantilever”-brug te bou is in 1882 toegeken aan Sir John Fowler en Benjamin Baker.
Dit sou ‘n allemintige 3 000 000 pond kos, 54 000 ton was nodig, en 6,5 miljoen moere moes die struktuur in plek hou.
‘n Forth-brosjure vertel tydens bouwerk van van agt jaar het 57 werkers uit 5 000 hul lewens verloor. Vir my klink dit na heelwat, maar teen die einde van die neëntiende eeu was dit glo ‘n veiligheidsrekord, aldus “Landmarks of Britain”.
Ingenieur Baker was ook verantwoordelik vir die bou van die Londense moltreinstelsel en die vervoer van die Cleopatra-obelisk van Egipte na Engeland. Daarom is hy in 1890 tot ridder geslaan.
Hoewel die brug 125 jaar oud is, staan dit steeds stewig in die Skotse aarde.
Byna die helfte van die brug se jaarlikse begroting word gebruik vir verf. Staal van nagenoeg 55 hektaar moet teen roes beskerm word. Daar word gesê om dié brug te verf is ‘n ewige taak, want teen die tyd wat dit voltooi is moet verfwerk al weer aan die anderkant begin. Van daar die gesegde: “It’s like paining the Forth Bridge”.
‘n Legende lui dat één moer van soliede goud gebruik is. Maar ander waarsku dat dit lankal verwyder is – dalk uit vrees dat fortuinsoekers daarna sal gaan soek en só hul lewens verloor.
Die naasliggende padbrug was die grootste suspensiebrug buite die VSA toe dit geopen is in 1964. Deesdae kan die Humberbrug in Engeland hierop aanspraak maak.
South Queensferry se promenade bied die beste blik op die twee brûe. Dié dorpie kry sy naam van die elfde-eeuse Koningin Margaret wat die veerboot vanaf Edinburgh hierheen geneem het onderweg na die koninklike kasteel by Dunfermline.

WAAR IS DIE BRUG?
Die Forth Railway Bridge is sowat 10 km uit Edinburgh op die spoorlyn na Dundee. Onderweg lei dié lyn ook verby die bekende St. Andrews-gholfbaan.
Sorg dat jy ‘n trein neem wat wel stop by South Queensferry, want die meeste stoom verby en dan gaan jy nie behoorlik na dié brug kan kyk nie.
Vanaf die stasie is dit ‘n stewige stappie tot op riviervlak waar die brug se pilare geanker staan in die Forthrivier.