Wednesday, February 1, 2012

Blommeprag by Tenahead

- Jens Friis


DAAR waar die Maluti, Witteberge en Drakensberge een word, wag ‘n onverwagse skat.


Só hoog is dit by Tenahead Mountain Lodge, die hoogste van sy soort in Suid-Afrika, dat hier geen bome is nie en kry jy plante (Alpine flora) wat nêrens elders in Suidelike-Afrika voorkom nie. Gewis ‘n snaaksigheid in Kontrei-wêreld wat behalwe vir die Oos-Vrystaat, bekend is vir sy plat landskappe.


Tenahead het tot stand gekom in 2002 toe ‘n Nederlands-paar vyf aaneenliggende plase gekoop en ‘n natuurreservaat van 3 500 ha só ontstaan het. Só het hulle verseker dat die reën wat in die berge (2 500 m bo seespieël) val, só skoon is dat besoekers dit aan tafel kan drink. Ook het die plant- en dierelewe hierdeur ongeskonde gebly.


In 2006 het River Hotels die Lodge geopen en die reservaat genoem na die Tinaheadberg (2 824 m) waar die Tinarivier sy oorsprong het.


Volgens die bestuurders mnr. Shauna Stephen en me. Nolan Muir is die beste tyd om na dié blomme te gaan kyk einde-Januarie en begin-Februarie.


“Hierdie tyd is eintlik ons lente, want dit word snags - selfs in die somers - koel hier op die berg. Gevolglik vat die saadjies veel langer om te ontkiem en uiteindelik te blom.”



Onder die besondere blomme wat hier voorkom is dioramas (haarlokkies), watsonias, moraeas, helichrysiums en euphorbias.


Hou ook jou oë oop vir ribbokke, bosbokkies en verskeie soorte aasvoëls.



* Tenahead is ‘n klipgooi vanaf die hoogste punt van die Naude’s Nek Pas in die Oos-Kaapse hoogland en grens aan Lesotho. Dit neem omtrent 4 ure om hierheen te ry vanaf Bloemfontein, maar weens padwerke tussen Reddersburg en Smithfield kan dit ‘n raps langer duur. Neem beslis ‘n verkyker, kamera en ook sonbrandmiddel saam. Hoewel die luggie hier bo koel kan wees kan jy jou lelik misgis met hoe sterk die sonstrale is. Sonroom is dus ‘n noodsaaklikheid.