Wednesday, February 1, 2012

Onderskatte Wes-Europese stede

ONDERSKATTE WES-EUROPESE STEDE


Metropole soos Londen, Parys en Amsterdam is gewilde toeristebestemmings, maar moenie die onbekender Wes-Europese stede onderskat nie. Gaan maak gerus ‘n draai in Rysel, Bergamo, Manchester, Antwerpen, Cambridge, Hamburg en Gent, skryf JENS FRIIS


MANCHESTER, ENGELAND


Wat jy van Manchester gehoor het, was waar. Hoe nader ons stoom, hoe meer word die kleirooi pakhuise met stukkende vensters, verwaarloosde kanale, beton-oorweë. Trae, grys stroompies onderbreek soms die eentonige troshuisies. Dis Billy Elliot-wêreld kwadraat.


``The fewer the facts, the stronger the opinion,'' het die oubaas oorkant my vroeër die middag gemor. ``Manchester is 'n stad wat mense leer ken sonder om ooit daar te kom.''


En dit ís so, want was dit nie dat ek hier móés wees nie, was Manchester vir seker ook nie op my reislys nie.


Tog het ek net versigtig my kop geknik. Hy het pas sy 80ste verjaardag gevier en was duidelik dik vir die holruggeryde rympie dat sy geboortestad sommersó is.


Elke dan en wan word Manchester immers aan sy kleinboetstatus herinner.


Nadat dié stad twee keer onsuksesvol gebie het vir die Olimpiese Spele, het Sebastian Coe opgemerk dat die wêreld net Londen ernstig sal opneem as Olimpiese stad.


Tog was dit nie altyd so nie. In die 19de eeu was Engeland se provinsiale stede die dinamo's wat die land aangedryf het tot internasionale oorheersing. As kernpunt van die nywerheidsrevolusie het Manchester op sy dag met Londen, Parys en New York as een van die invloedrykste stede meegeding.


Deur produktiwiteit en gehalte te paar was Manchester aan die voorpunt van nywerheidswelvaart, maar dit is ook van die hardste getref weens buitelandse mededinging in die katoenbedryf. Die verbandhoudende metaal- en ingenieurswese het ook gely. Die kersie op die koek was die resessie van die jare tagtig. Spoedig was die stad berug om sy bendekultuur, dwelms, onwettige vuurwapens en werkloosheid.


Dit is nie om dowe neute nie dat Manchester in 1995 aangewys is as gasheer van die Statebondspele wat vandeesweek begin het. Ten spyte van dekadensie het die stad teen die middel jare tagtig begin bruis met 'n byna roekelose energie. Redes was die vergroting van die lughawe, goedkoop geboue, die IT-bedryf en plaaslike musiekgroepe soos Simply Red en Oasis. Weinige stede kan Manchester se opwindende nagklubs ewenaar. Naweek vir naweek is dit gepak met partygangers van Londen tot Amsterdam.


RYSEL, FRANKRYK


Wyle Raisa Gorbatsjof het dit geweet. En Kylie Minogue. Gaan na Rysel (Lille) vir die styl en gehalte van Parys, maar betaal die helfte minder.


Dié stad noordoos van Parys en 14 km van die Belgiese grens, kan binne twee uur van die hoofstad en binne 'n uur van Calais bereik word.


Rysel het 'n ryk geskiedenis. Langs die Deülerivier het hy in die Middeleeue vinnig gegroei vanweë 'n florerende tekstielbedryf. Dit was ook op die kruispaaie tussen Vlaandere en Noord-Europa. Oorloë en oornames het die stad se voorspoed nie veel getemper of die argitektoniese erfenis verwoes nie. Lodewyk XIV het dit as die juweel van Frankryk beskou.


Maar dalk meer as enigiets anders is Rysel 'n inkopie-mekka. Haute couture soos Sonia Rykiel is te vinde in Vlaamse dorpshuise van Oud-Rysel. Dit staan sy aan sy met winkels waar egte antieke ware te koop is, maar ook reproduksies van skilderye van Leonardo da Vinci.


Dan is daar ook die winkels wat spesialiseer in mooi skryfpapier, geborduurde linne en sjokolade.


In die lekkergoedwinkel M. Meert (27 rue Esquermomise) kan sedert 1761 gesmul word aan wafels gegeur met Madagaskar-vanilla. Charles de Gaulle se bestelling wafels is gereeld na Parys gestuur. De Gaulle is in 1890 in Rysel gebore en die sakesentrum is na hom vernoem.


Talle van die stad se 180 000 winkels is tot 8 nm. oop. Selfs met 'n swak rand is Rysel die plek om jou sakke in Europa te vul.


BERGAMO, ITALIë


Bergamo, 50 km noordoos van Milaan, is twéé dorpe. Die motorvrye Ou Stad troon op 'n 370 m hoë heuwel, terwyl sy voet omring word deur 'n veel jonger stad wat inwoners eenvoudig "Bergamo" noem.


Dat die onderdorp minderwaardig is, sou 'n denkfout wees. Talle imposante geboue uit die 19de en 20ste eeu staan langs breë strate. Tog is jy voortdurend bewus van die bo-dorp.


Dit is daar waar Romeine, Gote en selfs Kelte die septer geswaai het, maar die groot opbloei sou kom onder die Venesiërs. Vir hulle was die goed geleë Bergamo 'n kern in hul handelsnetwerk. Daarom dat buitensporig grootse geboue jou steeds hier inwag.


Só het Le Corbusier Bergamo beskryf as die "aanbiddelike onbekende" weens sy indrukwekkende basilika. Die Santa Maria Maggiore het met hom "gepraat"-- veel meer as die (nietemin mooie) Dom en die Cappella Colleoni. Hier digby is die sentrale Piazza Vecchia wat vir eeue al die verhoog vorm vir 'n gesellige afspraak, 'n ete, 'n lag of 'n traan. Saans straal die pleintjie intimiteit uit. Hoog bo die Serio-rivier stel die inwoners hul suidelike opgewektheid ten toon.


Bedags sal hulle kuier langs die geplaveide winkelstraatjies met aan weerskante boetieks, restaurants en alomteenwoordige roomyswinkels.


Digby is die dorpie Gorgonzola wat bekendheid verwerf het vir sy ryke vetkaas wat met groen skimmeldrade deurgroei is. Ook uit hierdie geweste is mascarpone, 'n romerige kaas gewild vir nageregte, en taleggio, 'n sagte kaas wat jonk geëet moet word.


Noordwes-Italië is die tuiste van rysverbouing en risotto pryk op feitlik elke spyskaart .


OOK DIE MOEITE WERD


ANTWERPEN, BELGIë: Die diamanthoofstad van die wêreld swem na al die jare steeds in die geld - en die imposante geboue getuig hiervan. Wat jy hier moet aanskaf is eersteklas Belgiese kant en sjokolade. "Frituur Dageraad" bied eersteklasslaptjips met mayonnaisse. Cogels-Osylei is ‘n spogbuurt waar die eklektiese style van herehuise die straatbeeld oorheers. Hier is selfs ‘n Transvaalstraat.


CAMBRIDGE, ENGELAND: Een van die beste maniere om die universiteit-stad Cambridge te sien is per boot. In Venesië kan jy dié Italiaanse stad verken van ’n gondel af, maar in Engeland word hierdie bootvaardery punting genoem. En in Cambridge is dit ná al die jare steeds uiters gewild om só rond te vaar op die Cam-rivier. Talle van die gidse op die bootjies is studente wat ekstra geld op hierdie manier verdien. Vir meer inligting loer by www.visitcambridge.org.


HAMBURG, DUITSLAND: Altyd gedink München óf Frankfurt is naas Berlyn die grootste stad in Duitsland? Nee, dié eer gaan aan Hamburg. Met sy nagenoeg 1,7 miljoen inwoners is dié stad in Noord-Duitsland ook die digs bevolkte nie-hoofstad in die Europese Unie. In die Hamburg- metropolitaanse gebied woon ’n allemintige 4,7 miljoen mense. Dié stad se hawe is die naasgrootste in Europa (naas Rotterdam) en die negende grootste ter wêreld.


GENT, BELGIë: Die Belgiese dorp Gent word alte dikwels deur toeriste oor die hoof gesien. Hulle stroom eerder na Brussel en Brugge. Dit sal besoekers beslis loon om ook Gent op hul reise deur België in te sluit. Dis ’n pragtige, eeue oue kanaalstad met ’n sterk universiteitskarakter. Boonop is dit nie ver van die hoofpaaie wat België deurkruis nie. Afrikaanssprekendes sal uiteraard baie kan verstaan wat die Vlaminge praat.