Thursday, February 16, 2012

Dit & Dat wat die moeite werd is


Jens Friis beveel hierdie dinge aan

WONDERSKOON: Forbes.com se lys van die mooiste stede is bekend. Kaapstad pronk ook onder die dosyn mooistes ter wêreld. Hulle is Parys, Vancouver, Sydney, Florence (foto), Venisië, Kaapstad, San Francisco, Chicago, New York, Londen, Cambridge en Tokyo.

IN EUROPA BEMARK: 'n Nuwe reistydskrif in Nederlands, maar uitsluitlik gerig op reise deur Suid-Afrika, sien later die maand die lig. "Mzanzi: Reismagazine over Zuid-Afrika" se skrywers bestaan uit Nederlanders wat hier aan die suidpunt van Afrika woon en die land goed ken. Barbara van den Broek sê die tydskrif sal in Nederland verkoop word, maar ook by afsetpunte in Suid-Afrika waar Nederlanders gereeld aandoen soos lughawens. Kyk by www.mzanzi.nl

UITSIG: Vir 'n breë blik op die Oranjerivier, gaan drink iets met sononder op die oewer van dié rivier by die Riverside Pub and Grill in Aliwal-Noord.

POTJIE SKAAK: Rhodes spog deesdae met 'n groot skaakbord in dié Oos-Kaapse bergdorpie se karavaanpark. Gaan maak 'n paar skuiwe.

NIE BESKORE: Die Suid-Afrikaanse Lugdiens sê hy gaan nie 'n Airbus A380-makrostalers (wat tot 800 passasiers kan dra) koop nie, want dit pas nie in by sy netwerkplanne in nie. Dis 'n ongelooflike ervaring om met dié reuse voël te vlieg. Op 'n Air France-vlug was ek bekommerd dat die enjins afgeskakel het kort ná opstyging, want dit vlieg feitlik geluidloos.

NUWE VLUG: Vandeesmaand brei 1time hul vlugte uit na Mombasa, Kenia se tweede grootste stad, met twee direkte vlugte vanaf OR Tambo na Mombasa Internasionale Lughawe. Hulle vlieg reeds na Zanzibar, Tanzanië en Zambië. Tussen 200 en 300 mense sal na verwagting weekliks na Mombasa vlieg.