Thursday, February 16, 2012

Dit & Dat wat die moeite werd is


EET HIER: Eet by die Rooi Granaat (053-381-3040) in die hart van Loxton. Dié restaurantjie/tuisnywerheid is skuins oorkant die NG kerk in dié dorp. Skrywer Deon Meyer het 'n huis hier en kom saal gereeld af vanaf die Kaap. Jy kan by die Rooi Granaat ook van Meyer se boeke aanskaf. >>> ELRETHA, EK HEG 'N FOTO AAN.

EET OOK HIER: By Koekela in Bloemfontein kan jy aansit vir ontbyt en middagete op die stoep van 'n pragtige ou huis. Die boomryke tuin is gewild vir ooievaarstees en partytjies. Koekela is aan die oostepunt van Reidstraat, Westdene, naby waar dit 'n cul de sac maak.

KAN VAL: Die Big Ben-kloktoring in Londen hel aan sy bopunt met sowat 45 cm oor. Die bou van 'n ondergrondse parkeerterrein en nuwe moltreintonnels het tot onstabiele grond gelei. Daar moet nog besluit word hoe Brittanje se leunende toring van Pisa gered gaan word.

VIR JOU KOFFIE: Stop by die Karoo Deli (053-621-0453) in Victoria-Wes. Hulle verkoop tuisgemaakte anysbeskuit wat met die hand gebreek en dan uitgedroog word. Dit proe nes dié wat my ma altyd gemaak het. Nou het jy net 'n fles koffie nodig om 'n koppie te skink en jou beskuit daarin te doop as jy langs die ellelange paaie by 'n peperboom stop en na die stilte van die Karoo luister.

FEES DER FEESTE: Jy mag dit dalk oorweeg om te gaan kyk na die Olimpiese Spele (27 Julie tot 12 Augustus) of die Paralimpiese Spele (29 Augustus tot 9 September) in Londen. Maar alles gaan dan nóg meer ponde kos as gewoonlik. Die beste tyd om vanjaar ‘n feestelikheid mee te maak in Londen is op Sondag, 3 Junie. ’n Sowat 11 km lange flottielje van 1 000 skepe sal dan op die Teemsrivier vaar in een van die grootste en mees skouspelagtige gebeurtenisse nog hier om koningin Elizabeth se 60 jaar op die troon te vier, sê organiseerders. ’n Koninklike barg en sowat 20 000 deelnemers, historiese bote, werksbote, klein kajakke, musici en orkeste sowel as ’n unieke drywende kloktoring sal deel vorm van die skouspel van sowat R100 miljoen. Organiseerders voorspel miljoene toeskouers sal saamdrom langs die 40 km lange deel van die rivier waar die flottielje sal verbyvaar. Organiseerders sê dit sal mees dramatiese vertoning van Britse prag en praal sedert die 17de eeu wees.

WOEF WELKOM: Oorweg jy dit om met jou troeteldiere op vakansie te gaan, maar weet nie waar hulle welkom is nie? Skaf dan The South African Pet-Friendly Directory aan of kyk by www.petfriendly.co.za. In die Noord-Kaap is Woef en Kietsie onder meer welkom by die Toverberg Gastehuis in Colesberg, De Duine Lodge in Kuruman, Glosgow Pont Hotel in Norvalspont en die Rondawel Gasteplaas by Richmond. Gastehuiseienaars sê dikwels hulle verkies eerder troeteldiere as kinders, want troeteldiere veroorsaak baie minder skade!