Thursday, February 16, 2012

Dit & Dat wat die moeite werd is

Jens Friis beveel dié dinge aan.

EPIESE REIS: National Geographic bied 'n reis aan waarvoor ek my voortande sou gee. Die kaartjies wissel tussen sowat R210 000 en R400 000. En jy sal dit nie glo nie - alles is reeds lankal uitverkoop. Maar daar is wel hoop - plek kan nou bespreek word op aanstaande jaar se reis wat begin op 18 Maart 2013. Vir meer inligting loer by nationalgeographicexpeditions.com. Die skip vaar van Kaapstad al langs die weskus van Afrika tot in Marokko. Dit vaar verby die kus van die Noord-Kaap tot in Luderitz en later word daar onder meer aangedoen by reënwoude in Ghana en op kano's gevaar in Kameroen. Op die meegaande foto steek 'n venster sy kop uit deur die bloedrooi dak van 'n huis in Luderitz - die Duitse nalatenskap steeds duidelik sigbaar.

BLY NAG VERNIET: Betaal vir twee nagte en kry 'n derde nag gratis by die Tenahead Mountain Lodge. Dié vyfster-blyplek is in die Oos-Kaapse Hoogland 'n klipgooi van die Naude's Nek Pas. Dit kos R800 per person per nag wat deel. Die derde nag betaal jy slegs vir aandete en ontbyt. Die aanbieding is nog geldig tot 20 April. Kyk by riverhotels.co.za of skryf aan Tenahead@riverhotels.co.za.

SLEGTE TEERPAD: Hoewel die teerpad van Ficksburg na Senekal deur pragtige natuurskoon lei, gedy dit van slaggate. Dikwels moet jy skoon aan die verkeerde kant van die pad ry om dié gate wat maklik 'n band kan laat bars, te mis.

DERDUISENDE: Die plek om iets koels te drink teen die Karoo-hitte van Carnarvon is die Blikkieskroeg. Hier word jy omring deur nie minder nie as 'n allemintige 4 000 verskillende soorte blikkies wat netjies uitgestal staan in vertoonkaste en teen die mure.

STOP/RY: As jy met die N6 van Bloemfontein in die rigting van Aliwal-Noord ry, moet jy minstens ‘n halfuur, maar dalk eerder ‘n uur, ekstra toelaat vir reistyd, want die 74 km tussen Reddersburg en Smithfield word grootliks oorgebou. Met ‘n onlangse rit is ons op vyf plekke gestop. Nietemin bly Smithfield ‘n mooie dorp om in oor te bly. As een van die oudste dorpe in die Vrystaat spog dit met talle historiese gedenkwaardighede en heelwat gastehuise.

LOOP LIG: Moet jou nie laat flous deur die “lae” pryse wat dikwels in reisbrosjures in vet letters gepubliseer word nie. Een van die tipiese vangplekke is hoe goedkoop dit is om in ‘n eksotiese oord soos Barbados vir ‘n hele week te gaan bly (R5 940 per persoon). Maar dan kom die slang in die gras: ‘n vliegkaartjie kos vanaf R18 340 – en die “vanaf” sê jy gaan waarskynlik vir die kaartjie meer as R20 000 betaal. Boonop is die pryse slegs geldig as jy ‘n kamer deel. So die vliegkaartjie en verblyf vir jou en jou wederhelf gaan dan by die R60 000 draai!