Thursday, February 16, 2012

Deursny Lesotho se hartland

DEURSNY LESOTHO SE HARTLAND

JENS FRIIS het mid-Lesotho deurkruis.

VAN Maseru ry ons heerlik op teer tot in die hart van Lesotho met ‘n vriend se 4x4. Asof in die Alpe lei ingenieurswonders oor berge van 3 000 m. Die Hooglandwaterskema lê Lesotho bloot.
Maar as jy enigsins verder wil gaan, toets dit jou deursettingsvermoë, sou ons later leer.
Die weervoorspelling is in die kol: mooi weer en lae-20’s. Dis September – ‘n ideale tyd om hier te wees, want tussen Oktober en April val 85% van Lesotho se reën en talle mense sterf weens weerlig in die berge. Onophoudelike sneeu is in die orige maande algemeen.
Sommer langs die pad word tente opgeslaan. Ons eet. Drink. Gesels. Kyk na die sterre. Luister na die stilte. Daar kom niks van my vrees dat ‘n dronkaard ‘n mes deur ons tentseil gaan steek nie. Die mense groet en wuif orals. Wat het tog nie alles in Suid-Afrika verkeerd geloop nie! Ook anders as te wagte dra niemand meer die kenmerkende, spitsvormige grashoede nie. Dit is vervang deur helms - die invloed onmiskenbaar van pa’s op Vrystaatse en Gautengse myne. Dieselfde met gumboots wat seuntjies so graag dra as hulle vee oppas. Hul moeders bewerk elke duim vrugbare grond. As daar ‘n gelykte is word dit gebruik. Net jammer dat daarop male sonder tal ‘n powere lappie vaal-geel mielies groei. Word verbeterde mieliepitte en kunsmis ooit gebruik? As ons koning van Lesotho was en met min geld veel wou doen, sou dit wees om verbeterde landboumetodes hier te vestig. Só besluit ons ry-ry.As kinders die Land Rover gewaar nael hul bakhand na die pad. “Sweets!” roep hulle onophoudelik. Keer op keer hol hul só. Hoeveel keer stop verbygangers dan om lekkers uit te deel?
‘n Knap vorm van entrepreneurskap beloon ons wel. ‘n Seuntjie van seker sewe vul vore in die grondpad op met klippies. Hy word n handvol pepermente ryker, alhoewel ‘n pen of potlood dalk ‘n beter geskenk sou wees.By ’n aansluiting stop twee polisiemanne ons. Hul teken die registrasienommer aan en vra na ons bestemming. Die doel? Om die vrye beweging van kriminele te beperk. Suksesvol kan dit moontlik wees. In Lesotho is nie ‘n magdom paaie nie. Hier is slegs sowat 900 km teerpad in hierdie land wat so groot soos België is. Die landskap het ‘n sagte barheid en my berese reisgenote trek assosiasies met Pakistan tot Patagonië.Ons ry verby hutte met beddings helder afrikaners, ‘n streep nonnetjies vanaf ‘n kerk, ‘n menigte vigsadvertensies ...Die landskap verander in ‘n droë bergwêreld. Loodreg is die afgronde. As jy ‘n klippe los sal dit der honderde meters later in die bo-lope van die Oranje plons.Alles gaan voor die wind tot by Sehonghong. Dis by hierdie nedersettinkie waarvan die naam netsowel kon tuishoort in China dat ek dog ons het nou die pad skoon byster geraak. Skielik is daar weinig meer as ‘n voetpad oor waarop ‘n bobbejaan skaars met ‘n kierie sou kon loop.
“Het die pad nie iewers gespalk nie?”
“Nee,” sê ‘n verbyganger. “Dit ís die grootpad van noord tot suid deur Lesotho.”Talle brue is weggespoel. Net ‘n geluk dit het nie straf gereën onlangs nie.Blankes word ’n rariteit. Voertuie min. As ‘n kar verbykom kyk die inwoners. Ons stop sodat ‘n span osse met ‘n eg kan verbygaan. Vir middagete maak ons mieliepap - so reg in die kraal van die Basotho. Nie slap nie, maar stywe putu. Die vuur is ‘n primusstofie, want hout is hier min. Die moeilike Matabeng-pas wag. Die ganse Lesotho is hoër as 1 000 m bo seespieël wat dit die land met die hoogste laagtepunt ter wêreld maak. Weens die afgronde is jy altyd naby aan jou dood. Die paadjie is smal en ná reën wil ek nie eers dink hoe dit lyk nie.
Aan 18 km ry ons 3 ure. Dis nie kinderspeletjies nie, maar jy kan skaars glo dat ‘n wêrelddeel só woes en afgeleë, maar indrukwekkend en groots heeltemal deur Suid-Afrika omring word.In antwoord op my brief oor ons Lesotho-ervaring skryf ‘n vriend uit die Franse hoofstad: “Jul tog deur Lesotho klink wonderlik, maar jou opmerkings oor die vriendelike en ongerepte omgewing laat my glimlag. In vergelyking met Europa en die VSA is dít juis wat so spesiaal is aan Suid-Afrika.”

SOU JY GAAN
· Jy sal dié roete ook kan volg met ‘n sterk bakkie, maar die kans is goed dat dit opgefoeter sal word.
· ‘n Snelheidsperk van 60 of 80 km/h geld op die meeste paaie – nie dat dit werklik nodig is nie, want dit kan selde vinniger.
· Daar is gewoonlik brandstof in die distrikshoofdorpe.
· Suid-Afrikaners het geen visums nodig nie, maar wel ‘n paspoort.
· Van die kleinere grensposte sluit so vroeg as 16:00.
· Weens die hoogte bo seespieël kan digte mis tot laatoggend voorkom.
· Kredietkaarte word feitlik net in Maseru aanvaar. Bring genoeg kontant. Die rand word oral aanvaar. Swaziland, Namibië, Suid-Afrika en Lesotho vorm ‘n gemeenskaplike monetêre area.