Thursday, February 16, 2012

Dit & Dat wat die moeite werd is


- Jens Friis

KUIER BY OXBOW: 'n Instelling wat reeds jare blyplek bied in Lesotho is die Oxbow Lodge. Dit is in die noordooste van dié land en op pad moet jy óór die Motengpas (2 840 m) waar die landskap 'n sagte barheid het. Van hier daal die pad neer na die droë Malibamatsovallei. Oor dié laaste 8 km voor die Oxbow Lodge is daar van mens en dier weinig te sien. Oxbow verwys na 'n boog wat 'n nabygeleë rantjie maak. Vroeër moes die pad daaromheen loop, maar deesdae nie meer nie. Met ons aankoms is dit koud-koud. Bokant 'n gasverwarmer wat die koue verdryf, hang goue toekennings van die Internasionale Bedryf vir Toeriste, Hotelle en Gasvryheid. Ook wanneer dit sneeu, kom gaste van heinde en verre. Behalwe ski, is hier ook San-tekeninge, is dit ideaal vir 4x4-entoesiaste en is die bergstrome ryk aan forel. 'n Verbyvloeiende stroom bied in die somer bergwater om in te baljaar. Die weer by Oxbow kan binne minute ingrypend verander. Omdat dit hoër as die boomsoom is, word dit tot -20 grade Celcius. Neem selfs in die somer iets warms saam, want dit kan saans koel word. Suid-Afrikaners het nie 'n visum nodig nie, maar wel 'n paspoort. Loer by www.oxbow.co.za.

BLY IN ‘N HEREHUIS: Vir onvergeetlike blyplek in Britse herehuise loer by www.cntraveller.com/recommended/uk/the-best-stately-homes-in-england.

BLITSIG: Met ‘n hoësnelheid-trein is dit moontlik om na die Hermitage in St. Petersburg te gaan kyk en die aand weer in Moskou terug te wees. Vroeër was die enigste manier om per trein tussen dié twee stede te reis, die nagrit op die Rooi Pyl. Dit is steeds moontlik, maar diefstalle eerder as die hoëgehaltediens het sedert die Sowjet-era hoogty gevier. Nou is dit nie meer nodig om 'n binnelandse vlug van Aeroflot te neem nie. Die treinrit met die nuwe blitstrein duur net vier uur.

KAMPEER HIER: Die vyf beste kampeerplekke in die Noord-Kaap is volgens die reistydskrif Weg se Januarie-uitgawe:
1. De Hoop-kampplek, Richtersveld- nasionale park
2. Die Houthoop-gasteplaas, Kleinzee
3. Kokerboomkloof-kampplek, Richtersveld- nasionale park
4. Mata-Mata-ruskamp, Kgalagadi-oorgrenspark
5. Nossob-ruskamp, Kgalagadi-oorgrenspark

IN DIE MIDDEL: Boshof in die Vrystaat is die dorp wat die naaste aan die middelpunt van Suid-Afrika is.

OM DIE WêRELD: ‘n “Around the world”-vliegkaartjie gaan jou sowat R31 000 uit die sak jaag. Dit sluit dan die volgende stede in: Johannesburg, Sydney, Vancouver, new York, Frankfurt, Londen en terug na Johannesburg. Volgens flightcentre.co.za sal dieselfde kaartjie R58 000 kos sou jy besigheidsklas vlieg.

WAARDE VIR GELD: Lesotho is een van die tien lande op aarde wat die beste waarde vir geld aan toeriste bied. Só het die gesaghebbend reisgids Lonely Planet onlangs bevind toe die "Top 10 best value destinations in the world" aangewys het. Dis dus des te meer rede om vir 'n naweek uit te wyk ná die landjie op ons voorstoep.

PADSTAL: Doen aan by die Constantia Cherry-padstal op die R26 tussen Clocolan en Ficksburg. Hier kan jy smul aan die heerlikste tuisgebak en ook handwerk uit die omgewing aanskaf.

SAA VLIEG NA BEIJING: Die Suid-Afrikaanse lugdiens sal van 31 Januarie af drie vlugte per week van Johannesburg na Beijing in China aanbied en sal sy Airbus A340-600-vliegtuie op dié roete gebruik. Die vliegtyd tussen Johannesburg en Beijing is 15 uur en kaartjiepryse begin by R7 000. SAA is die grootste en volgens die internasionale agentskap Skytrax die gewildste lugdiens in Afrika met sy vlugte na 20 bestemmings op die vasteland buiten Suid-Afrika.

LIPLEKKER LEKKERS: By die Turksvy Trading Store in Rosendal kan jy outydse lekkers koop. Steek jou hand in die glasbottels wat die lekkers varshou en skud jou sak. Dit sal jou terugneem na vervloë dae.