Thursday, February 16, 2012

Nieuwpoort se se “rijke historische verleden”



Op ‘n windstil dag het JENS FRIIS sy tone gaan druk in een van België se gewildste sandstrande.
OP ‘n keer kuier ek by my Belgiese vriend Kristof in Antwerpen. Sy pa het plase naby die kus, maar “Vader word oud en het besluit om dié grond nou eerder te verhuur,” verduidelik Kristof wat (nog) nie wil gaan boer nie.
Dit maak sin dat die jonge Kristof voortgaan met sy werk in die Diamanthoofstad, terwyl die grond (wat letterlik goud werd is) verhuur word. Só word ‘n dubbele inkomste verseker.
Maar nie alles is so rasioneel beredeneerbaar nie. Die opruimery op die plaas gaan weens sentimentele redes uitputtend wees. Daarom stel Kristof voor dat ek eerder die dag deurbring in die nabygeleë Nieuwpoort.
Op die keper beskou was dit ‘n goeie keuse, want Nieuwpoort is g’n gewone “badstad”. Met sy “rijke historische verleden” (soos ‘n stadspamflet lees) onderskei hierdie Belgiese strandoord hom van vele ander. Tog staan sy verbondenheid met die see altyd voorop – nes sy “dagverse vis”, en die garnale waarvoor dit so bekend is.
Reeds vanaf die jare 800 is hierdie inham in die see gebruik om die Belgiese binneland te kon intrek. Van daar die naam Nieuwpoort (“nova portus” in Latyn of vry vertaal “nieuwe hawen”). Op dieselfde manier het die Amerikaanse hawestad, Newport, sy naam gekry.
By Nieuwpoort mond die Ijzerrivier via die Ganzepoot uit in die Noordsee. Die Ganzepoot is klompe sluise wat die watervlak van die polders beheer.
De Ijzer is de kortste van die drie Belgische rivieren wat in die see uitmond. Die ander twee is die Maas en die Schelde. Die Ijzer ontspring wes van Kassel in Noord-Frankryk. Dit vloei dan vir 78 kilometer, waarvan 45 in België, voordat dit uitmond in die Noordsee.
Naby dié monding is ‘n belangrike vonds kort gelede gevind, berig Reuters. Argeoloë van die Instituut vir Argeologiese Patrimonium (IAP) van die Vlaamse gemeenskap het die oorblyfsels van 'n Middeleeuse vuurtoring gevind. Dié toring is in 1284 gebou ek was op sy dag die grootste langs die hele Europese kuslyn. Dit had ‘n deursnee van byna 8m, en die baksteenmure was 80 cm dik.
In die middel was 'n wenteltrap na die toringverhoog 20 m bo die grond. Die spits van die toring was 30 m hoog en die toring het drie vensters. Vuur is van riet gemaak.
Teen die dertiende eeu was die huidige Nieuwpoort bekend weens sy vissery, maar ook weens sy strategiese ligging. Dit het as ‘n voorhawe gedien vir Ieper en Brugge. Dit was dus van kardinale belang dat hierdie hawe nie in die verkeerde hande val nie. En by die slag van Nieuwpoort in 1600 het Mauritis, die prins van Oranje, die Spanjaarde verslaan. Teen hierdie tyd is Nieuwpoort gereken as een van die tien grootste en welvarendste stede van Vlaandere.
Teen die neëntiende eeu het dit gewild geword onder die gebiedsgebonde Europeërs om uit te wyk na die kus in die somermaande. (Vandag nog kom alles omtrent hier tot stilstand in die winter.) Weens hierdie eertydse kustoerisme is ‘n spoorlyn gebou tussen Nieuwpoort-Bad en Brussels. Op 15 Augustus 1869 stoom die eerste trein die stasie binne met niemand anders aan boord nie as koning Leopold II, die Belgiese koning.
Van Nieuwpoort het net ‘n ruïne oorgebly na die Eerste Wêreldoorlog. En voordat die inwoners hul oë kon uitvee het dit hier gekrioel in die Tweede Wêreldoorlog. Dat dit naby Duinkerken lê sê reeds watter verwoesting gesaai is.
In die jare vyftig is begin met uitgebreide heropbouwerk. Só is ‘n doeltreffende stadsinfrastruktuur geskep met breë paaie, asook nuwe parke, geboue en brüe. Of soos Kristof opgemerk het: “Hierom het Nieuwpoort ‘n `prestigieuse allure’”.
Die stad met sy 11 000 inwoners bestaan deesdae uit vier onderskeidende buurte. Die oudste is Nieuwpoortstad met sy historiese kern. Nieuwpoort-Bad is bekend vir sy sandstrand en breë wandelpromenade. Verder is daar Sint-Joris en Ramskapelle, twee outentieke polderdorpies in die naby hinterland.
Nieuwpoort-Bad laat mens dink aan die Strand, maar die woonstelle wat deesdae by dié Suid-Afrikaanse strandoord opspring is meer imposant.
Wat die Strand egter nie het nie is ‘n reuse standbeeld van ‘n skilpad waarop ‘n man uit brons sit. Dié beeld deur die Belgiese kunstenaar Jan Fabre maak deel uit van ‘n kunstuitstalling aan die Belgiese kus en is kenmerkend van Nieuwpoort.
Dis by hierdie ongewone landmerk waar Kristof my laatmiddag oplaai toe hy van die plaas kom. Hy’s opvallend kapoet weens die opruimery, en ek is in die stilligheid bly dis my gespaar. Om ‘n dag in dié “badstad” te spandeer was gewis veel minder dreinerend. Inteendeel, Nieuwpoort was heel verkwikkend.