Thursday, February 16, 2012


'n TREFFER: Stuur 'n poskaart of nog beter 'n brief vanaf oorsee en plak 'n mooi posseël daarop. Dis veel lekkerder vir familie en vriende om te ontvang as 'n epos of SMS. Dié posseël is verlede jaar in Switserland uitgegee ter steun van die Wêreldomgewingsfonds.






AFSLAG BY PARKE: Bespreek by www.sanparks.org vir verblyf tussen 25 November en 7 Desember en kry 'n allemintige 40% afslag. Die aanbod geld onder meer by die Augrabies-ruskamp, Golden Gate Hotel, Twee Rivieren in Kgalagadi, Pretoriuskop in die Krugerwildtuin, die Bontle-kampeerarea in die Marakele Nasionale Park en die Lilydale-ruskamp in die Mokala Nasionale Park.

'N EERSTE: Die Groen-Kalahari-kanomarathon (www.gkcm.co.za) word vir die eerste keer aangebied en vind plaas tussen 22 en 24 Maart. Op dag een gaan die roeiers 34 km van Upington af tot by Oranjerus roei. Dag twee spring by Ikaia op Keimoes weg en eindig 39 km verder by Die Mas op Kakamas. Dag drie is slegs 26 km lank en begin by Die Mas en eindig by Khamkirri by Augrabies.

WAARDE VIR GELD:
Suid-Afrika bied die sesde beste waarde as langafstand-bestemming vir Britse reisigers. Lande wat beter waarde bied is Sri Lanka, Thailand, Vietnam, Mexiko en Maleisië. Na Suid-Afrika volg Bali, Argentinië, die Dominikaanse Republiek en Kenia. Dié bestemmings is oor die algemeen ook van die beste waarde vir Suid-Afrikaners (hoewel ons vlugte daarheen verskil). Die Holiday Costs Barometer vergelyk die koste van 10 items waaronder 'n bottel bier, koppie koffie en 'n driegang maal vir twee met wyn. Suid-Afrika het veral goed gevaar met die driegang maal. In slegs Sri Lanka en Mexiko kan jy goedkoper eet.