Thursday, February 16, 2012

Rivier deur Rome droog op



- Jens Friis
Menige wêreldstad het sy ewe bekende rivier. So het Parys die Seine, Montreal die St. Lawrence, en Londen die Teems.
Maar die stadsvaders van Rome vrees, want hul Tiber is nie meer wat dit was nie. Die mense word meer, maar die water nie. Daarom vloei dié rivier deesdae soms skaars en sy watertjies is só besoedeld dat g’n behoorlike vis daarin sou wou swem nie.
Dis ‘n tragedie, want die vrugbare Tiber-vallei was die geboorteplek van die Romeinse Ryk asook die Italiaanse beskawing. Rome is geleë 30 km vanaf die see by die verste punt wat antieke skepe kon bereik.
In Rome se vroeë dae was die “campagna” (grondgebied) waardeur die Tiber gesny het ‘n vleiland, die tuiste van arm herders wat gereeld deurgeloop het onder malaria. In 1928 is hierdie vleiland egter gedreineer en die muskiete het verdwyn.
Die Tiber is 350 km lank en vloei vanaf die Appenyne deur ‘n breë laagland wat eens ‘n meer was. Die modder van dié meer is vrugbare grond vir valleiplase wat besproeiingswater lustig opsuip.
Toentertyd toe die Tiber nog ‘n sterk vloeiende stroom was, was die oprigting en instandhouding van brûe noodsaaklik vir lewe en handel in Rome. Andersins kon diegene wat noord en suid daarvan gewoon het, dit net oorsteek per boot.
Volgens oorlewering is die oprigting van die brûe (“pontes” in Latyn) oorgelaat aan die “pontifices” wat later die belangrikste van die religieuse ordes geword het. So verwys ‘n “pontifex” (deesdae die pous) oorspronklik na ‘n bouer van brûe. Só lees ek in “Rome of the Caesars” wat ek vanmeleë gekry het as Latyn-student.
Die eerste historiese brug in Rome was die Pons Sublicius. Sy naam verwys na die “sublicae” oftewel houtpilare en dis opgerig stroom af vanaf die Tiberiese eiland.
Op die Tiberiese eiland was die Tempel van Aesculapius en dit het later die plek geword waar siekes behandel is. Hierdie tempel word deur historici beskou as die eerste primitiewe hospitaal van Rome.
Mens staan verstom as jy besef die Pons Aemilius, die allereerste steenbrug oor die Tiber, is reeds gebou 181 jaar voor Christus se geboorte. Die grootste deel van dié brug is verowes in 1589. Drie boë van die Ponte Rotto (“rotto” beteken “stukkend” in Italiaans) het staande gebly tot 1886. ‘n Verdere twee boë is toe afgebreek om plek te maak vir die Ponte Palantino.
Langs die banke van die rivier was geen geboue nie sodat bote maklik daar kon vasmeer. ‘n Belangrike aflaaipunt van kos en marmer was die Emporium. Terracotta vase (“testae”) is hier afgelaai deur goedereskepe en mettertyd het dit só opgehoop dat dit ‘n kunsmatige heuwel gevorm.
Die Testaccio en oorblyfsels van die antieke brûe is nog daar, maar van die magtige Tiber is weinig oor. Die stadsvaders krap kop, want hul pogings om dié wêreldbekende rivier te red het sover maar weinig vrugte afgewerp.
Mag iemand met ‘n blink plan vorendag kom, want dit sou ‘n hartseerdag wees as dié rivier finaal gaan staan.