Thursday, February 16, 2012

Buitelug geesdriftiges doen dit nou in styl



Verby is die dae dat jy met al jou bagasie moet aankarring soos dié twee fietsryers deur Noord-Ierland gedoen het. Toere die wêreldoor bied nou die opsie dat jy jou bagasie soggens kan laat oplaai en dit dan op jou wag by ‘n gastehuis (met ‘n stort en aandete). Sulke avontuurgevulde dae in die natuur gevolg deur nagte op verebeddens word ‘n gewilde keuse vir buitelug-geesdriftiges. Foto: Jens Friis

Buitelug-geesdriftiges doen dit nou in styl

- Jens Friis
ONTHOU jy nog hierdie soort wiskundeprobleme in matriek? 'n Vliegtuig vertrek van New York na Boston (480 km) en vlieg teen gemiddeld 800 km/h. Sowat 20 minute later vertrek 'n soortgelyke vliegtuig van Boston na New York.
Na hoeveel minute en hoe ver van Boston sal hulle by mekaar verbygaan?
Daar was natuurlik altyd 'n formule waarin al die data netjies sou pas om by die regte antwoord uit te kom. As dit nie 'n windstil dag is nie en hul boonop nie dieselfde spoed vlieg nie, was dinge bietjie ingewikkelder.
Neem nou die volgende gegewens:
Jy gaan op 'n vyfdag-roeitog. Met al die kos, water, slaapsakke en tente wat saamgepiekel moet word, is die seekajakke so swaar dat jou asem later van die roei jaag. Boonop lek jou tent ná 'n reënbui wat ook die vuur blus en daar is nie ‘n warm maaltyd vir aandete nie.
Hoe gemaak as dit nie jou idee van plesier is nie, maar jy tog graag elke nag elders wil oorslaap ná 'n dag se roei of fietsry?
Dan reël jy sito-sito dat jou bagasie soggens opgelaai word en wag by 'n gastehuis (met 'n stort en aandete). Sulke avontuurgevulde dae in die natuur gevolg deur nagte op verebeddens word 'n gewilde keuse vir buitelug-geesdriftiges.
Fietsryers was die eerste om aan die idee te byt, maar dit het nou uitgebrei na voetslaners, skiërs wat deur honde getrek word en inn-to-inn sea-kayaking trips.
Gewilde roeiroetes waar gastehuise hoogstens 10 km van mekaar geleë is, is langs die kus van Maine, Kanada se Prince Edward-eiland, British Columbia se Gulf-eilande en Portugal se portwynstreek.
'n Instrukteur met aansteeklike geesdrif help baie as jy 'n groentjie met 'n hol kol op die maag is. Só leer jy toe dat 'n ``propeller''-beweging effektiewer is op 'n kajak as die gewone druk teen die water uit 'n kano.
Jy leer ook hoe om uit die kajak te kom as dit omslaan en om die getye te lees om te voorkom dat jy daarteen roei.
Al nadeel van dié ekspedisies is dat dit aanloklik mag wees om nie te roei nie. Veral as daar kreef vir aandete is en jy onder 'n boom, waarvan die appels 'n blos op die wang het, kan sit en kyk hoe die mis soggens oor die Atlantiese Oseaan verdwyn.

Sou jy wou gaan
Vind meer uit oor hierdie maklike manier van reis deur ‘n oog te gooi by:
* www.italykayaktours.com
* www.touringkayaks.com
* www.trails.com
* www.gogreece.about.com